AFRIKAANS BULLETIN 10VM – 2 AUGUSTUS 2020

Hoofstories hierdie uur…
# Meer as 500-duisend coronavirusinfeksies in Suid-Afrika
EN
# Nuwe vuurwapenamnestie periode
Die tyd 10 uur ek is ____________________. Goeie more.

# Die getal bevestigde coronavirusinfeksies in Suid-Afrika het die 500-duisend kerf verbygesteek nadat 10-duisend-107 nuwe gevalle aangemeld is. Die totaal staan nou op 503-duisend-290. Honderd-48 nuwe sterftes is ook in die afgelope 24uur aangemeld, wat die dodetal op agtduisend-153 te staan bring.
Die land se herstelkoers staan op 68-persent.

#Die nuwe vuurwapen-amnestie tree vandag in werking en sal ses maande duur. Die amnestietydperk stel wapeneienaars in staat om ongewenste wapens in te handig. Wapeneienaars kan ook aansoek doen vir die hernuwing van lisensies en vaardigheidsertifikate.
Die polisiewoordvoerder, Brenda Muridili, sê tydens die vorige amnestietydperk is bykans 47-duisend wapens ingehandig, in weerwil van die inperkingsmaatreëls wat beweging beperk het.
Sy sê die wapens sal eers getoets word om te bepaal word of dit in misdade gebruik is, voor dit vernietig word.
Kenners het al verskeie keer gesê die amnestietydperke dra min by tot die verwydering van onwettige wapens uit die samelewing.

# Die minister van Verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, sê beeldmateriaal van Weermag-offisiere wat rook tydens die begrafnis van Andrew Mlangeni in Soweto het haar in die verleentheid gestel.
Sy sê hulle het voor hul bevelvoerder verskyn en word aan tugstappe onderwerp. Mapisa-Nqakula sê wat haar betref is die saak afgehandel en is daar nie ‘n misdaad begaan nie.

#Die vrou van ‘n voormalige kabinetsminister is op borgtog van vyfduisend rand vrygelaat.
Sy is Vrydag deur die Valke weens beweerde aanranding en kwaadwillige saakbeskadiging in hegtenis geneem.
Sy is by ‘n polisiestasie in Pretoria aangehou.
Die vrou sal na verwagting môre in die Hatfield-landdroshof in Pretoria verskyn.

En ten slotte:

# Indië het 57-duisend nuwe coronavirus-gevalle aangemeld, die hoogste daaglikse getal tot dusver in die land.
Indië het die derde meeste bevestigde coronavirus-gevalle, met meer as een-komma-ses miljoen infeksies en 36-duisend verwante sterftes.
Dit is derde agtereenvolgende dag dat meer as 50-duisend nuwe gevalle aangemeld is.
Maharashtra is die staat wat die ergste geraak word, maar daar is ook skerp stygings in talle ander dele van die land.

Dit is die einde van die nuus vir hierdie uur, die volgende bulletin is om ____.
Vir (radiostasie ID) ______________ nuus, ek is _________________.