AFRIKAANS BULLETIN 11VM – 23 MEI 2020

Hoofstories hierdie uur…
# AfriForum sê buurt- en plaaswagte moet weer toegelaat word gemeenskappe te beveilig
EN
# Die VF Plus sê die Minister van handel en nywerheid moet verantwoordbaar wees

Die tyd is 11 uur ek is ____________________. Goeie more.

# Die burgerregteorganisasie AfriForum is van mening dat buurt- en plaaswagte nou meer as ooit toegelaat moet word om gemeenskappe te help beveilig.
Dít volg ná die Minister van Polisie, Bheki Cele, se aankondiging dat misdrywe soos kapings en geweld toegeneem het.
AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid, Ian Cameron, sê geweldmisdaad begin veral toeneem soos beweging regoor die land meer vrylik plaasvind.

# COSATU sê hulle hoop dat die Minister van Finansies, Tito Mboweni, ‘n begroting sal lewer wat werkskepping sal aanmoedig.
Mboweni sal volgende maand weens die coronavirus-pandemie ‘n noodbegroting lewer.
Met die nasionale inperking het sommige werkgewers hul werknemers afgedank.
Suid-Afrika het ‘n hoë werkloosheidsyfer nog voor die pandemie gehad.
COSATU-woordvoerder, Matthew Parks, sê die land kan nie bekostig om meer werk te verloor nie.

(Speel:200523nClip1.mp3)

# Die Minister van Polisie, Generaal Bheki Cele, het die SAPD toegejuig omdat hulle toesien dat die coronavirus protokolle gevolg word.
Cele het tydens ‘n media-inligtingsessie aangekondig dat 6-honderd-en-11 polisielede tydens die pandemie positief getoets het.
Die provinsie met die infeksies is die Wes-Kaap met 4-honderd-en-40 infeksies.
Cele sê van die ses polisiebeamptes wat aan die virus in die land gesterf het, is vier van die Wes-Kaap.
(Speel: 200523nClip2.mp3)

# Die VF Plus dring daarop aan dat die minister vir handel, nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel, meer verantwoordbaar moet wees deur gereeld voor die parlement se portefeuljekomitee vir handel en nywerheid te verskyn.
Die party sê die minister het sedert die instelling van die inperkingsregulasies nog slegs een maal voor die komitee verskyn en was gister afwesig omdat hy glo ongesteld is.
Die VF Plus se Kobus Mulder sê Patel speel ‘n sleutelrol in die regering se nasionale bevelsraad en die uitvaardiging van regulasies wat die land se ekonomie onafwendbaar beïnvloed.
Mulder sê die minister se oorreaksie rakende inperkingsregulasies en sy mikrobestuur van die Suid-Afrikaanse handel, het onherstelbare skade aan die ekonomie aangerig wat gaan lei tot grootskaalse werkloosheid en hongersnood.

En ten slotte:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie het gewaarsku dat miljoene kinders gevaar loop om dodelike siektes soos witseerkeel, masels en polio op te doen omdat die Covid-19-pandemie gereelde inentingsprogramme in die wiele ry.
Die WGO se direkteur-generaal, Tedros Gebreyesus, het ‘n oproep gedoen vir ‘n gesamentlike poging om gereelde inentingsveldtogte teen voorkombare siektes voort te sit.
Gebreyesus het in Genéve, Switserland, gesê inentings is een van die mees basiese en magtigste intstrumente wat openbare gesondheid teen siektes kan gebruik.

# Geldsake: Die goudprys staan op duisend-734-dollar-00 sent per fynons en die prys van Brent ruolie op 34 dollar-30 sent per vat.
Die rand verhandel teen 17 rand-64 sent teen die Amerikaanse dollar, 19 rand-25 sent teen die euro en 21 rand-50 sent teen die pond.
Die prys vir een Bitcoin verhandel teen 9-duisend-135-dollar-02.

Dit is die einde van die nuus vir hierdie uur, die volgende bulletin is om ____.
Vir (radiostasie ID) ______________ nuus, ek is _________________.