Afrikaans Bulletin 12NM – 7 Desember 2018

Hoofstories hierdie uur…
# Menslike foute die hoofrede vir meeste ongelukke
EN
# Die OBK verskyn in die parlement
Die tyd is 12 uur, ek is ____________________. Goeie middag.

# Die Outomobiel Assosiasie sê die menslike foute is die oorsaak van 90 persent van alle padsterftes in die land. ‘n Woordvoerder van die AA, Layton Beard, het net voor die begin van die vakansietyd met die SAUK gepraat. Beard sê hulle bepleit strawwer maatreëls teen diegene wat die padreëls oortree. Hy sê baie mense is van mening dat hulle die padreëls kan ignoreer, en kan doen wat hulle wil omdat daar nie gevolge is vir hulle optrede nie. Beard sê indien daar swaarder gevolge is vir swak padgedrag, sal dit volgens die AA bydra tot ‘n verlaging van die padslagting elke jaar.

# n Aansienlik minder strydlustige span van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het Donderdagaand in ’n laatnagsessie die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) probeer oortuig dat hy sy beleggingsbesluite sonder enige politieke of ander druk neem.
Die span van 20 direkteure en topbestuurders is aangevoer deur Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies en voorsitter van die direksie, en Matshepo More, finansiële hoof en waarnemende uitvoerende hoof.
Gungubele en More – wat waarneem sedert dr. Daniel Matjila se bedanking op 23 November – het toegegee dat die OBK in die onlangse verlede ondeursigtig was en swak gekommunikeer het.

# Die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, het Dinsdag ’n skool besoek nadat ’n video waar ’n leerling van dié skool ’n onderwyser uitskel, die ronde begin doen het.
Volgens die Gautengse departement van onderwys het die voorval vyf maande gelede by die Laerskool Lewisham in Krugersdorp plaasgevind.
In die video kan ’n graad 7-leerling gesien word wat ’n manlike onderwyser se aandag probeer trek. ’n Onderwyseres probeer om die leerling te tugtig.

# Die oud-rugbyspeler Barend Britz is Donderdagaand in ’n aanval in sy kroeg in Perpignan, Frankryk, noodlottig beseer.
63-jarige Britz, ’n slot in sy speeldae, wat die kroeg Bar and Britz besit het, is aangeval deur ’n man wat sy kroeg verwoes het. Luidens berigte in die Franse media het Britz aan sy beserings beswyk met sy aankoms by die hospitaal in Perpignan.
Die aanvaller het na bewering stoele rondgegooi en vensters stukkend geslaan voordat hy Britz oor die kop geslaan het.

En slotte…

# Die Suid-Afrikaanse Vloot sê hy het daarin geslaag om ‘n sleepboot wat in die hawe in Simonstad in vlak water gesink het, weer vlot te maak.
‘n Vlootwoordvoerder, Greyling van der Berg, sê die operasie is vroeër die week uitgevoer.
Die sleepboot De Mist het op tien November vanjaar in die hawe gesink.
Volgens Van den Berg het vlootingenieurs en duikers ‘n omvattende evaluering van die sleepboot gemaak omdat dit baie moeilik is om ‘n vaartuig te herwin uit water wat minder as 10 meter diep is.

# Geldsake: Die goudprys staan op duisend-238-dollar-65 sent per fynons en die prys van Brent ruolie op 59 dollar-84 sent per vat.
Die rand verhandel teen 14 rand-09 sent teen die Amerikaanse dollar, 16-rand-01 sent teen die euro en 17 rand-98 sent teen die pond.
Die prys vir een Bitcoin verhandel teen 3-duisend-432-dollar-92-sent.
Dit is die einde van die nuus vir hierdie uur, die volgende bulletin is om ____.
Vir (radiostasie ID) ______________ nuus, ek is _________________.