AFRIKAANS BULLETIN 4NM – 15 MEI 2019

Hoofstories hierdie uur…
# Duduzane Zuma moet verantwoording doen in hofbank

En
# Ouers en kundiges moet help met besluitneming oor kurrikulum

Die tyd is 4 uur, ek is ____________________ Goeie Middag.

#AfriForum sê hulle verwelkom die feit dat die seun van voormalige president Jacob Zuma, Duduzane Zuma, vandag moes getuig in die vervolgingsaak vir sowel strafbare manslag as roekelose en nalatige bestuur teen hom.
Zuma se verdedigingspan het hom in die Randburgse landdroshof as eerste getuie geroep.
Die saak is egter uitgestel tot môreoggend 08:30 nadat die hof se stenograaf gebreek het en verrigtinge nie opgeneem kon word nie.
Die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, sêdie feit dat Zuma Jr. vandag in die getuiebank verantwoording moes doen vir die dood van Mekelina Dube is nie net ’n oorwinning vir AfriForum nie, maar vir almal in die land wat gelykheid voor die reg voorstaan.
Kriel het die Dube-familie en adv. Gerrie Nel en sy span by AfriForum se privaatvervolgingseenheid geloof vir hul deursettingsvermoë om te help toesien dat Zuma Jr. voor die hof gedaag is vir die dood van Dube.

#Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) sê ouers en ander belanghebbendes in die onderwys moet betrokke wees by die prosesse van kurrikulumvorming in Suid-Afrika. Dit beteken onder meer om betroubare inligting te bekom, liewer as om op sensasionele mediaberigte te reageer.
In die afgelope week was daar ontsteltenis na aanleiding van ‘n mediaberig dat die nuwe kurrikulum vir lewensoriëntering onder meer masturbasie aan graad viers gaan onderrig. Die departement van onderwys het in reaksie gesê dat dit onwaar is en die betrokke joernalis se motiewe is bevraagteken.
Volgens die VF Plus beteken dit steeds nie dat die party die inhoud van lewensoriëntering in skole onderskryf nie. Dié party gaan van ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing uit waarin seks beskou word as ‘n godgegewe gawe wat binne die huwelik uitgeleef word.

# Tientalle SAUK-werkers moes die openbare uitsaaier se gebou in Auckland Park in Johannesburg verlaat nadat diesel op een van die boonste verdiepings van die gebou uitgemors en glo gevaarlike walms veroorsaak het.
Die diesel word glo gebruik vir ‘n kragopwekker.
Netcare911 se woordvoerder, Shawn Herbst, sê sommige SAUK-werkers is op die toneel behandel voordat hulle na die hospitaal vervoer is.
(Speel: 190515_nherbst-1.mp3)

# Die amptelike opposisie in KwaZulu-Natal, die IVP, sê die burgemeester van die Ethekwini metroraad, Zandile Gumede moet geskors word.
Gumede, ‘n raadslid, Mondli Mthembu, en ‘n diensverskaffer, Craig Ponnan, word betrek by ‘n tenderskandaal.
Die drie is aangekla van bedrog, korrupsie, geldwassery en die oortreding van die Wet op Munisipale Bestuur.
Hulle het gister in die Handelsmisdaadhof in Durban verskyn. Nog ses mense is vroeër by die bedrog betrek.
Die IVP se woordvoerder in die metroraad, Mdu Nkosi, sê Gumede behoort geskors te word om fluitjieblasers te beskerm.
(Speel:190515nIF.mp3)

En uiteindelik…
# ‘n Skildery deur die Franse Impressionis, Claude Monet, het by ‘n veiling in New York vir meer as 110-miljoen dollar verkoop.
Dit is die hoogste prys wat nog behaal is vir een van Monet se skilderye.
Die skildery uit sy hoomied-reeks toon stapels graan met lang skaduwees in die gloed van die son.
Nog ‘n skildery uit die reeks is in November 2016 vir meer as 80 miljoen dollar verkoop.

# Geldsake: Die goudprys staan op duisend-298-dollar-10 sent per fynons en die prys van Brent ruolie op 70 dollar-83 sent per vat.
Die rand verhandel teen 14 rand-26 sent teen die Amerikaanse dollar, 15-rand-96 sent teen die euro en 18-rand-40 sent teen die pond.
Die prys vir een Bitcoin verhandel teen 8-duisend-072-dollar-38-sent.

Dit is die einde van die nuus vir hierdie uur, die volgende bulletin is om ____.
Vir (radiostasie ID) ______________ nuus, ek is _________________.