Afrikaans Bulletin 8VM – 7 Desember 2018

Hoofstories hierdie uur…
# Sewe vas vir dwelms in Mitchell’s Plain
EN
# Midvaal-munisipaliteit minag hofbevel
Die tyd is 6 uur, ek is ____________________. Goeie naand.

# Sewe verdagtes is in Kaapstad aangekeer nadat dwelms van meer as ‘n halfmiljoen rand by ‘n huis in Mitchell’s Plain gevind is.
Die polisie sê ‘n multidissiplinêre span onder aanvoering van die Valke het op dagga en Mandraxtablette afgekom in die erf van die huis in Tafelsig.
Daar is nog dwelms en ‘n onbekende bedrag kontant in ‘n kluis agter ‘n skildery in die huis gekry.
Die verdagtes is in hegtenis geneem en sal Maandag in die landdroshof in Mitchell’s Plain verskyn op aanklagte van dwelmhandel.

# ‘n Kostebevel is deur die hof teen Midvaal-munisipaliteit uitgereik omdat hy bewustelik versuim het om teen ‘n onwettige eiendomsontwikkeling op te tree.
Die aansoek is suksesvol deur mnr. Paul Wright teen die Midvaal-munisipaliteit en Fun Valley Properties gebring.
Die hofbevel verplig die munisipaliteit om teen die eienaar van die eiendom op te tree.
Alle verdere ontwikkeling moet summier gestaak word totdat daar aan die statutêre- en munisipale regte en bouregulasies voldoen word.
Die VF Plus sê hulle vind dit onaanvaarbaar dat die Midvaal-munisipaliteit die hofbevel, wat op 12 September vanjaar uitgereik is, steeds minag en ignoreer.
Die party se Kobus Hoffman sê die VF Plus is gefrustreerd met die munisipaliteit se inkonsekwente hantering van die regte van belastingbetalers en veroordeel dit ten sterkste.
(Speel: 181207nVFPlus.mp3)

# Pendelaars wat van die hoofweë na die Kaapse middestad gebruik maak, kan erge vertragings verwag nadat reën oornag en Vrydagoggend oor groot dele van die metropool geval het.
Verkeer was teen 06:00 druk op die N1 weens ‘n ongeluk net ná die afrit na Plattekloofweg in die rigting van die stad. Die regterbaan was vir verkeer gesluit, maar is intussen oopgestel.
‘n Stilstaande voertuig, wat teen 06:10 verwyder is, het die regterbaan op die N2 net ná die afrit na die lughawe versper.

# Die uitvoerende hoof en die voorsitter van die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika (Necsa) is glo stil-stil uit hul poste verwyder.
Die beleidshoof van die DA en lid van die parlement se staande komitee oor finansies, Gwen Ngwenya, het in ’n verklaring gesê dit het onder hul aandag gekom dat die minister van energie, Jeff Radebe, virdie uitvoerende hoof, Phumzile Tshelane, en die voorsitter, dr. Kelvin Kemm, na bewering uit hul poste verwyder het.
Sy gaan aan hom skryf om te bevestig of dit die geval is en om redes daarvoor te vra.

En slotte…

# Die Kimberleyse mynmaatskappy Petra Diamond het die verkoop van sy 75 persent aandeel in Ekapa Mining bevestig.
Die maatskappy het in Julie vanjaar aangekondig dat hy sy aandeel vir 300 miljoen rand aan sy vennoot Ekapa Mining sal verkoop.
Dit sluit in ondergrondse mynbedrywighede in Kimberley.
‘n Woordvoerder van Petra Diamonds, Gert Kloppers, sê die maatskappy sal nog steeds van sy werknemers in die Noord-Kaap hou.

# Geldsake: Die goudprys staan op duisend-239-dollar-70 sent per fynons en die prys van Brent ruolie op 61 dollar-03 sent per vat.
Die rand verhandel teen 13 rand-94 sent teen die Amerikaanse dollar, 15-rand-81 sent teen die euro en 17 rand-72 sent teen die pond.
Die prys vir een Bitcoin verhandel teen 3-duisend-855-dollar-92-sent.
Dit is die einde van die nuus vir hierdie uur, die volgende bulletin is om ____.
Vir (radiostasie ID) ______________ nuus, ek is _________________.