AFRIKAANS BULLETIN 9VM – 1 AUGUSTUS 2020

Hoofstories hierdie uur…
# Kenner sê daar is nou politieke wil om plaasmoorde te stuit
EN
# Uitgelekte voorlegging toon skooljaar loop dalk nie tot 2021 nie
Die tyd is 9 uur, ek is ____________________. Goeie môre.

# Polisiekenner en konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies, dr. Johan Burger, sê gespesialiseerde polisie-eenhede om plaasaanvalle en – moorde landwyd te probeer bekamp, is ’n positiewe stap én die heel eerste tasbare bewyse dat die regering die politieke wil ontwikkel het om dié tipe geweldsmisdade daadwerklik te beveg.
Dit volg nadat nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, bogenoemde Vrydagoggend in die parlement bekend gemaak het.
Sitole het hierdie eenhede bekend gemaak kort voordat hy en minister van polisie, Bheki Cele, die jongste misdaadstatistieke bekend gemaak het.
Luidens die polisie se statistieke is 49 plaasmoorde in 46 voorvalle in 2019-’20 aangemeld.
Sitole het LP’s ingelig dat die polisie ook sy landelike veiligheidsplan in reaksie op plaasmoorde geaktiveer het.

# ‘n Uitgelekte voorlegging aan die komitee van hoofde van onderwysdepartemente (Hedcom) toon dat die akademiese jaar moontlik nié tot 2021 verleng word sal nie, maar op 15 Desember vir graad R tot graad 11-leerlinge eindig.
Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa op 23 Julie gesê het die akademiese jaar gaan tot 2021 verleng word.
Die voorlegging toon dat die aangepaste skoolkalender, wat tans 173 skooldae het, onttrek en gewysig sal word dat daar 156 skooldae vir leerlinge en 163 dae vir onderwysers is.
’n Vakansie word van 26 tot 30 Oktober voorgestel om die derde en vierde kwartaal te skei.
Volgens die voorlegging moet onderrig vir graad R tot graad 11 op 15 Desember afgehandel word en die nuwe skooljaar vir leerlinge op 20 Januarie 2021 begin.
’n Finale besluit is egter nog nie geneem nie.

# Twaalf mense is gistermiddag beseer na ‘n bakkie en ‘n taxi in Randfontein gebots het.
Paramedici het by die toneel opgedaag en die taxi op sy sy aan die kant van die pad gevind.
Die bakkie is het in die middel van die kruising tot stilstand gekom.
Paramedici het die pasiënte ondersoek en gevind dat die bestuurder van die bakkie ernstige beserings opgedoen het.
ER24-woordvoerder, Russel Meiring, sê die elf taxi-passasiers het ligte beserings opgedoen.
(Speel: 200731nClip1.mp3)

En ten slotte…
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het weer ‘n oproep gedoen vir wêreldwye eenheid in die stryd teen die koronavirus.
Terwyl meer as 17-miljoen mense wêreldwyd tot dusver die virus opgedoen het, werk wetenskaplikes onverpoosd om ‘n entstof vir die virus te vind.
Die hoof van die WGO, Tedros Ghebreyesus, sê om die pandemie die hoof te bied is wetenskap, tegnologie en innovering noodsaaklik.
Hy sê egter die belangrikste wapen in die stryd teen die virus is solidariteit.

Dit is die einde van die nuus vir hierdie uur, die volgende bulletin is om ____.
Vir (radiostasie ID) ______________ nuus, ek is ________________.